Bok van Blerk
Bok van Blerk
June 13, 2025 at 03:44 PM
*Bok van Blerk bring huldeblyk aan sy pa in nuwe lied – ’n Groot boom het geval* *Vrystelling: Vrydag 13 Junie 2025* Met sy kenmerkende stem, diep lirieke en vermoë om die hart van sy gehoor aan te raak, stel Bok van Blerk op Vrydag 13 Junie sy mees persoonlike en aangrypende lied tot dusver bekend: “’n Groot boom het geval” – ’n huldeblyk aan sy vader wat drie en ’n half jaar gelede oorlede is – net twee dae voor Vadersdag – en is ’n intieme eerbetoon aan ’n vader, mentor en vriend. Die lied is meer as net musiek – dit is ’n verhaal van verlies, herinnering en eer. Bok het sy toespraak wat hy op sy pa se begrafnis gelewer het gevat as basis en die lied geskryf uit sy eie ervaring van rou, maar die temas van liefde, respek en nalatenskap spreek tot enigeen wat al ’n ouerfiguur verloor het. ’n Spesiale storie wat die lied en lirieke nog meer betekenis gee, het plaasgevind ná sy pa se dood. Bok se ma het hom gevra of hy een van sy pa se kledingstukke as herinnering sou wou hou. Bok het gevra vir sy pa se geliefde naga jaghemp – ’n simbool van hulle jare lange jagtradisie. Ná lank se soek het hulle by die begrafnisondernemer uitgevind dat sy pa reeds in daardie hemp veras is. Daardie detail word eerlik en broos in die lied vasgevang: “Naga jaghemp van jou gesoek die oggend toe ons jou groet. Maar jy het hom klaar aangehad om liewe Jesus te ontmoet.” Later daardie jaar het Bok en sy vriende, tydens hulle jaarlikse Naga jag-ekspedisie – ’n jagtradisie wat al 15 jaar bestaan en wat Bok en sy pa saam begin het – sy pa se as aan die voet van ’n maroelaboom in die bosveld gestrooi. Daardie oomblik is vasgevang in lirieke wat sowel simbolies as persoonlik is: “Aan die voet van Maroelaboom Het ek jou as gestrooi, my kroon.” Bok en sy pa het ook baie tyd in en op die see saam spandeer en dit het bok se liefde vir die see gekweek. Nog ‘n liriek wat diep tref in die lied word in die brug vasgevang: “Ek onthou pa se kenmerkende diep stem, groot hande, my eerste vis op pa se boot en pa se laaste een op my boot in” “’n Groot boom het geval” is ’n huldeblyk vol liefde, dankbaarheid en rou – ’n lied wat vaders eer, en wat luisteraars aan hul eie pa’s en mentors sal laat dink. Die lied is beskikbaar op alle digitale platforms vanaf Vrydag 13 Junie 2025. Luister hom Hier: https://ditto.fm/bok_van_blerk_n_groot_boom_het_geval
Image from Bok van Blerk: *Bok van Blerk bring huldeblyk aan sy pa in nuwe lied –  ’n Groot boom...
❤️ 3

Comments