Landelike Veiligheid
Landelike Veiligheid
February 13, 2025 at 04:38 AM
Donderdag 13 Februarie 2025 Môre Kom ons veronderstel vanmôre dat daar 'n plaasaanval plaasgevind het. Jy word uitgeroep om te kom hulp verleen of jy is die eerste persoon op die toneel. Hoe tree jy op? Neem kennis. Vermy om paniekerig te raak, tree gefokus en metodies op. Waar moontlik verkry vooraf opleiding om hierdie tipe tonele te hanteer. Hoe meer inligting jy vooraf het hoe beter kan jy die situasie hanteer. Om mee te begin sal jy binne jou vermoë hulp verleen aan slagoffers. As daar mense is wat nie die aanval oorleef het nie sal jy hoogstens bevestig dat die persoon oorlede is deur te kyk vir pols en asemhaling. Jy doen dit natuurlik met so min moontlik versteuring aan die toneel. Enige beseerde persone word, waar moontlik en toepaslik, verskuif om die toneel sovêr moontlik te bewaar en dan word die fisiese aanvalstoneel afgekordon. Van daardie oomblik af is dit net gemagtigde persone wat daar ingaan soos SAPD en ander, gekwalifiseerde ondersoekers, mediese personeel ens. As daar oorlewendes is wat in 'n toestand is om inligting te gee, verkry soveel moontlik. Goed soos hoeveel aanvallers, kleredrag, wapens, taalgebruik, vervoermiddels, gesteelde goedere soos wapens ens. Intussen kan persone wat hulp verleen begin om die omgewing te bewaar. Ek weet dat instink jou vertel om so gou moontlik na verdagtes te soek maar heel eerste moet mens seker maak jy vernietig nie belangrike bewysstukke in die proses nie. Spore, items wat verloor is tydens die misdadigers se vlug, selfs die rigting waarin gevlug word kan gekompromeer word deur ondeurdagte optrede. As jy oor genoeg mannekrag beskik plaas mense uit op strategiese punte, ingange en uitgange na die area, om dop te hou vir moontlike verdagtes. Sirkuleer alle relevante inligting so gou moontlik aan soveel moontlik lede. Hoe meer mense bewus is en aktief help kyk, hoe beter. Dit is hier waar 'n goed georganiseerde buurtwag goud werd is. Laastens is dit noodsaaklik om, sodra SAPD of ander wetstoepassers die toneel oorneem, alle relevante inligting soos tyd van aanval, beskrywing van verdagtes ens aan hierdie ouens oor te gee. Belangrikste bly egter om die misdaadtoneel so goed moontlik te bewaar. Dit kan die verskil tussen sukses of misluk beteken. Vermy te veel mense op of naby die toneel. Seker logies maar hou kinders en emosioneel onstabiele persone weg. Baie belangrik! Gaan vir berading/ debriefing tipe ding. Hou kontak met die beraders, en praat sodra jy voel dit is nodig. Moenie skaam wees nie, enigiemand kan en gaan heel moontlik knak, al het jy al 100 tonele bygewoon. Dawie Conradie 082 930 9905 Sluit aan by die Whatsapp kanaal https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q Rapporteer asseblief plaasaanvalle aanlyn by www.plaasaanval.co.za Rapporteer asseblief veediefstalle aanlyn by www.veediefstal.co.za
👍 🙏 📍 😟 🙌 7

Comments