
Landelike Veiligheid
June 2, 2025 at 04:17 AM
Maandag 2 Junie 2025
Goeie môre
Hoekom is dit belangrik om voorsorg te tref? Of om by 'n buurtwag aan te sluit? Wat van aansluit by 'n burgerregte organisasie?
Want dit help om kennis te vermenigvuldig, uiteraard leer mens om navorsing te doen en nuwe tendense vinniger raak te sien. Nie almal van ons kan of wil altyd die harde voetwerk doen om inligting te gaan soek nie en as jy dit doen loop jy gevaar om verstrengel te raak tussen waarheid en fopnuus.
Ek het onlangs die geleentheid gehad om 'n beraad by te woon waar heelwat inligting gedeel is rondom misdaad, misdaad tendense en ook die nuwe vorme van misdaad wat baie moeilik is om op jou eie te ontsyfer.
Ons het reeds 'n tyd gelede vir mekaar op hierdie kanaal gesê dat misdaad deurlopend verander. Dit is tot 'n mate 'n natuurlike progressie maar ook nie altyd nie.
Misdadigers pas aan omdat ons hul planne sien en dan teenwerk, maar deur inligting te versamel en deel onder mekaar, kan ons ook meer sukses hiermee bereik.
Georganiseerde misdaad speel nou 'n baie groter rol as 'n paar jaar gelede, die geleentheids misdadiger word oorskadu deur die sindikate wat nou aktief is.
Ons sal baie vinnig ons strategieë moet verander om nie verswelg te word deur hierdie misdaadgolf nie. Ons sal moet hande vat, tussen bure, buurtwagte en gemeenskappe. Ons kan nie meer eilande wees nie.
Dit begin tuis, ons moet 'n veilige leefwyse kweek, by onsself maar ook by ons kinders.
Maak gebruik van elke stukkie veiligheidsgereedskap tot jou beskikking, hekke, heinings, alarms, kameras, veiligheidsdeure en diefwering om maar 'n paar te noem. Maar vat jou veilige leefwyse vêrder, wanneer jy gaan inkopies doen, naweek weggaan of selfs met vakansie gaan. Pas jou optrede aan. Moenie onnodig jou rykdom adverteer nie, jou duur, "top of the range" selfoon, juweliersware ens, bêre dit liefs veilig in 'n kluis. Jou ID, paspoort en ander belangrike dokumente, maak elektroniese kopieë op geheuestokkies, ja meervoud want dit kan ook gesteel of beskadig raak.
Bêre die name van nood kontakte op jou foon met die voorvoegsel ICE (In Case of Emergency) voor die persoon se naam. Sou jy in bv 'n ongeluk betrokke wees en paramedici jou nood kontakte moet kan bereik is dit ten minste beskikbaar.
Daar is letterlik duisende sulke wenke wat mens kan deel, punt is egter dat jy self, vir jou en jou gesin se unieke situasie, moet planne maak. Self moet dink en self moet innoveer.
Dawie Conradie
082 930 9905
https://t.me/veiligheid101
Sluit aan by die Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Help ons om 'n akkurate plaasaanval register te hou
https://whatsapp.com/channel/0029Vb69BxK2kNFuZMydpC3R
Word 'n lid van AfriForum
https://sluit-aan.afriforum.co.za?campaign=RoepToepCMO&leadSource=600028911
👍
🙏
8